2021 Voordragkompetisie


Inskrywings NOU oop!

Hierdie kompetisie is oop vir laerskoolkinders en word in 3 kategorieë verdeel:

  • Graad 1 tot 3 leerlinge
  • Graad 4 tot 6 leerlinge
  • Graad 7 leerlinge
Inskrywing is gratis.

Sluitingsdatum: 31 Mei 2021


Gedigte waaruit gekies kan word

Gedigte vir Voordragkompetisie (Gr 1 tot 3) Kies een

PERDJIE

Woorde: A.D.E. GUTSCHE; gewysig: PIERRE MALAN

 

Hop, hop, hop! Hop my perdjie, hop!

Oor die klippe, oor die slote,

trap versigtig met jou pote!

Altyd op galop! Hop my perdjie, hop!

 

Draf, draf, draf! Draf my perdjie, draf!

As jy my wil afgooi, perdjie,

gryp ek gou-gou aan jou stertjie,

dan val ek nie af! Draf my perdjie, draf!

 

Ho, ho, ho! Ho my perdjie, ho!

Kom ons eet eers gou 'n stukkie

en dan rus ons net 'n rukkie.

Hokaai, hokaai, ho! Ho my perdjie, ho!

ESELTJIE RY

Woorde: SAAR ENGELA

 

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pat,

die eseltjie ry ná die stad.

Hy pluk aan sy toompie

en sukkel met oompie

en trek sy twee lang ore plat.

 

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pout,

maar kyk so 'n esel is stout!

Toe, roer jou, Jan-dooi,

loop vinnig, loop mooi,

en klaps! kom 'n raps op die bout!

 

Ka-poe-te, ka-poe-te, ka-pat,

maar nou laat so 'n eseltjie spat.

Dit spring en dit skop,

en dit wip agter op,

en oompie lę plat in die pad!

KLAAS VAKIE (Ek sal nou maar so saggies aan ...)

Woorde: A.D. KEET

 

Ek sal nou maar so saggies aan

na bed toe gaan.

My ogies is al baie vaak,

ek dwing al om hul toe te maak.

Ek sal maar bed toe gaan.

  

Ek sal nou maar my moeder kus,

en dan gaan rus.

My ogies is al baie moe,

hul val vanself al sommer toe.

Ek sal maar gou gaan rus.

 

Ek sal nou maar my ogies sluit;

die lig is uit.

En haar gesig die sien ek tog;

aan haar dink ek gedurig nog,

al is die liggie uit.

Gedigte vir Voordragkompetisie (Gr 4 tot 6) Kies een

MAAR ÉÉN SUID-AFRIKA

Woorde: A.D. KEET

 

Gee my 'n roer in my regterhand;

gee my 'n bok wat vlug oor die rand,

en 'n flukse perd om hom weg te dra,

gee my, gee my Suid-Afrika.

 

Gee my 'n kamp waar bossies groei,

gee my 'n fraai volstruis wat broei,

en 'n boereseun wat baie wa,

gee my, gee my Suid-Afrika.

 

Gee my 'n koppie waarop ek staan;

gee my die Swartland met al sy graan

en nooit of te nimmer hoor jy my kla,

gee my, gee my Suid-Afrika.

 

Gee my 'n vlakte, ruim en wyd,

gee my die veld se oneindigheid,

en die lekker geur wat die lug daar dra;

gee my, gee my Suid-Afrika.

FEËLIED

Woorde: MAXIE DE VILLIERS

 

Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.

En ek wonder wie kan raai waar hulle woon.

Hulle huppel heen en weer op die blaartjies sag en teer;

hulle huisies is die blommekelkies skoon.

 

Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.

Hulle vlerkies skitter fraai in sonneskyn.

Hulle fladder hier en daar, speel so lieflik met mekaar;

hulle rokkies is gemaak van blou satyn.

  

Daar is feetjies, kleine feetjies in my tuintjie.

Op hul hofies dra hul elk 'n blommekroon.

Elke keer as hulle lag klink dit helder, lief en sag.

O, ek wens dat hul vir altyd hier wil woon.

O, BOEREPLAAS

Woorde: C.F. VISSER

 

O boereplaas, geboortegrond!

Jou het ek lief bo alles.

Al dwaal ek heel die wêreld rond,

waar so gelukkig, so gesond?

O boereplaas, geboortegrond!

Jou het ek lief bo alles.

 

O moederhuis, waar ooit so tuis?

Jou het ek lief bo alles.

Die wêreld, rykdom, prag en praal

kan jou verlies my nooit betaal.

O moederhuis, waar ooit so tuis?

Jou het ek lief bo alles.

 

O moedertaal, o soetste taal!

Jou het ek lief bo alles.

Van al die tale wat ek hoor,

niks wat my siel ooit so bekoor.

O moedertaal, o soetste taal!

Jou het ek lief bo alles.

Gedigte vir Voordragkompetisie (Gr. 7) Kies een

KOMAAN!

Woorde: JAN F.E. CELLIERS

 

Wees sterk! Daar's 'n nasie te lei,

daar's 'n stryd te stry, daar's werk!

Daar's nie na guns of eer te kyk,

daar's nie na links of regs te wyk,

daar's net te swyg en aan te stryk--Komaan!

 

Wees trou! Daar's 'n volk te leer

om homself te eer, te bou;

om God en God alleen te vrees,

aan aard en taal getrou te wees,

gesond en waar van hart en gees--Komaan!

 

Wees fier op 'n voorgeslag waard,

in wil en in daad gespier!

Hul lewensweg het ons gewys

om trou te wees aan waarheidseis.

Wie laak mag laak, wie prys mag prys--Komaan!

MY LAND, SUID-AFRIKA

Woorde: ANDRIES WASSERMAN; gewysig: G.G. CILLIÉ

 

Suid-Afrika, o land so ruim en vry;

jy is die land deur God gegee aan my;

jou het ek lief! Verkeer my land in nood,

trou sal ek bly, ja, selfs tot in die dood.

 

Suid-Afrika, o land van son en veld;

jy is gekoop deur bloed van meenge held.

Dierbaar die grond waar helde rus tot nou;

hul het gestry, hul bloed geskenk vir jou.

 

Suid-Afrika, die land waar God regeer.

Heer, gee ons krag, ons wil U altyd eer;

gee ons die moed vir dit wat ons moet dra.

Heer, hoed ons land, beskerm, Suid-Afrika!

DIE BANGBROEKVRYER

Woorde: EITEMAL

 

Jy kan vra, neef, dis vry, geen mens kan dit keer nie;

en weier daarby kan niemand verweer nie.

Wat weeg jy en wik jy, wat hakkel en hik jy?

Die vra is tog vry en die weier daarby.

 

Maar hy praat oor die oes wat amper vergaan is,

oor droogte en roes wat nou in die graan is.

Wat meet hy en mik hy, wat stotter en stik hy?

Die vra is tog vry en die weier daarby.

 

As die moed hom verlaat, kwansuis is hy dorstig;

hy dwing om te praat, maar o, só aamborstig!

Dan hoes hy en hik hy, dan bloos hy en blik hy.

En dan vra hy my of hy water kan kry!

 

Die onsekerheid, Jan, kan ek nie verdra nie.

Wat doen met 'n man wat nie eers kan vra nie!

Koos Meintjies die sluk nie, hy stotter en stik nie,

maar vra sommer vry--en hy sal my nog kry!