NPC 2017/408421/08
Vir die Mense - Deur die mense

REGSVONK


AFRIKAANS IS JOU TAALREG... OF DALK NIE?


Marius Coertze - Opinie stuk

Is jou taalregte die papier werd waarop dit in die Konstitusie van Suid-Afrika geskryf staan?

Ons mense vergeet so maklik dat hul regte op papier niks beteken sonder aksie in die praktyk nie.  Anders gestel: lofwaardige "papierregte" klink mooi, maar dis die praktiese uitlewing van daardie regte wat eintlik die verskil maak.

Net so is dit ook met die Afrikaanse taal gesteld.  As jy jou reg om Afrikaans te praat nie in die praktyk uitlewe nie, bly dit slegs ‘n reg op papier, wat nie veel beteken nie.

Afrikaans as taal het in die Suid-Afrikaanse praktyk reeds heelwat van sy gevestigde regte verloor oor die afgelope 24 jaar onder die ANC-regime :
Afrikaans is nie meer ‘n hoftaal nie;
Afrikaans is nie meer ‘n akademiese taal nie;
Afrikaans is nie meer ‘n besigheidstaal nie;
Afrikaans is nie meer ‘n tegniese of wetenskapstaal nie;

Afrikaanse skole word die afgelope 24 jaar sedert 1994 doelbewus geteiken en stelselmatig omgeskakel na Engels.

En steeds sit die Afrikaners en Boere en die Bruin mense op hulle boude en doen niks om hulle moedertaal te beskerm teen die aanslae nie.  

Geen proteste en optogte vir die behoud van Afrikaans word bygewoon nie.

Mense dink blykbaar dat klieks met die rekenaar-muis en bytende  kommentaar op Facebook hulle moedertaal sal red!
Is knaende Facebook plasings dan die enigste teken van lewe onder Afrikaans-sprekendes?

Kyk hoe volg die stringe verskonings wanneer daar ‘n oproep gedoen word om ‘n protesoptog vir Afrikaans by te woon: “Ons glo nie in konfrontasie nie”, sê hulle. “Proteste en optogte is nie ons kultuur nie”, sê hulle. “Ek kan nie afvat by my werk nie”, sê hulle. “Ek is te besig vir sulke nonsens”, sê hulle. Onbetrokke Afrikaans-sprekendes. Argelose  Afrikaans- sprekendes. Pap Afrikaans-sprekendes.

Wel, meneer en mevrou, dan moet jy maar solank vrede maak dat jy en jou kinders jul Afrikaanse taal gaan verloor.  Geheel en al verloor. Dis net ‘n kwessie van tyd.

As jy jou moedertaal lief het, teken protes aan.  Praat jou taal.  Woon optogte vir Afrikaans by.  Doen  iets, en moet nie net daar sit en wag vir die doodskoot nie.  

Afrikaans is jou reg.  Gebruik dit.  Beskerm dit.  Koester dit.
As jou moedertaal nie vir jou saakmaak nie, wat sal dan vir jou saak maak?