NPC 2017/408421/08
Vir die Mense - Deur die mense

GEDENKVONK


Vars nuus: Ou SA vlag, dalk gou haatspraak


Die Nelson Mandela Stigting verklaar dat: “Die tentoonstelling (van die ou vlag) onderstreep die pyn van miljoene swart Suid- Afrikaners wat onder apartheid gely het, en steeds onder die nalatenskap daarvan swaarkry.”

Ek wil graag die volgende opper: (My opinie, my siening)

Onder die ou vlag het segregasie plaasgevind, wat gesien word as die euwel van alle euwels, omrede toegang tot Suid- Afrika beperk was. Tuislande is geskep by name: Transkei, Bophuthatswana, Ciskei, Venda, Gazankulu, KaNgwane, KwaNdebele, KwaZulu, Lebowa en QwaQwa. Die tuislande is ontwerp vir spesifieke etniese groepe. Bv.: Ciskei en Transkei is vir die Xhosa-mense geskep, terwyl Bophuthatswana vir die Tswana-mense geskep is. KwaZulu was vir Zoeloe-mense, Lebowa vir die Pedi en Noord-Ndebele, Venda vir Vendas, Gazankulu was vir Sjangaan en Tsonga-mense en Qwa Qwa was vir Basothos.

Wet 68 van 1951, het voorsiening gemaak vir die vestiging van swart tuislande en streeksowerhede, met die doel om groter selfregering te skep, en die Wet op die Bevordering van Bantoe-Selfbestuur, Wet 46 van 1959, het swart mense in verskillende etniese groepe geskei. Die Bantu Tuisland Burgerskap Wet van 1970 het toegelaat dat swartes regdeur Suid-Afrika as regsburgers woon in die tuisland wat vir hul besondere etniese groep aangewys is, maar het nie swart Suid-Afrikaanse burgerskap of burgerlike en politieke regte gegee nie. Swartes het regte in hul onderskeie tuislande gehad en elke groep het 'n kommissaris-generaal gehad wat die taak gehad het om 'n tuisland te ontwikkel, wat onafhanklik sou kon regeer sonder wit ingryping.

In die 1970's het die Suid-Afrikaanse regering vier van die tuislande as onafhanklik verklaar. Dit was die Transkei in 1976, Bophuthatswana in 1977, Venda in 1979 en Ciskei in 1981. Die oorblywende tuislande het selfregerend gebly, met geen onafhanklike regte nie, maar die doel was dat dit eindelik onafhanklik van Suid-Afrika moet word.

Alhoewel dit tog ‘n strategie was om alle swartes uit Suid-Afrika te hou, het dit ook beteken dat swartes hul eie regering kon hê, vanuit hul eie mense, sonder onderdrukking of beheer vanaf ‘n wit man. Die probleem kom daarin, dat hul selfonderhoudend en onafhanklik moes wees en op hul eie gebied hulself moes ondersteun, op hul eie voete moes staan.

Die verskoning is aangebied en word steeds op gehammer dat die plaaslike tuisland-ekonomieë nie ontwikkel was nie. Dit neem my natuurlik terug na die vrae:
Wat was ontwikkel, op enige gebied, toe die wit man voet aan wal gesit het?
Hier was niks.

Wat het behoue gebly en wat was werklik nog produktief na die Anglo – Boereoorlog wat beëindig is met die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902?
Die boere het teruggekeer na afgebrande opstalle en lande, sommiges sonder hul vrou en kinders wat omgekom het in die konsentrasiekampe. Hierdie maatskaplike ellende het die Afrikaners/ Boere na die stede gedryf. Die mynbedryf was egter in die hande van Engelse. Swartes het die ongeskoolde werk gedoen en Afrikaners/ Boere het geen werk gekry op die myne nie, daar was openlik en blatant teen hulle gediskrimineer.

Hoeveel skade is aangerig deur die Engelse Mynbase met die 1913 en 1922 staking en hoeveel Afrikaanssprekende wit mense was finansieël in ‘n goeie posisie?
Na die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het baie Engelse weer na Engeland teruggekeer. 'n Tekort aan geskoolde arbeid het op die myne ontstaan. Afrikaners wat bereid was om te leer, in Engels, het vir die poste in aanmerking gekom, maar hul salarisse was baie laer as dié van die Engelse. Die toestande vir werkers was nie bevredigend nie. Mynverwante siektes, soos myntering, het algemeen voorgekom. Daar was geen mediese versekering en ander voordele nie. Benewens hul slegte werks- en lewensomstandighede was hul werk permanent in die gedrang, omdat die mynbase die Afrikaners teen goedkoop Swart werkers afgespeel het, alhoewel die swartes net die ongeskoolde werk gedoen het.

In 1913 by die Kleinfonteinmyn is ‘n groot aantal wit (Afrikaanse) werkers afgedank en vervang met swartes en selfs Chinese. Die Kamer van Mynwese was onbuigsaam en het selfs ’n konfrontasie met die Afrikaanse mynwerkers gesoek om hulle mag te breek. Die vakbonde wou nie toegee nie en ’n staking van 18 000 mynwerkers is uitgeroep. Die regering het op die stakers laat skiet. Meer as 100 myners en bystanders sterf. Daar is egter wel op ’n onderhandelde skikking besluit. Ten spyte van die groot ontevredenheid onder mynwerkers, het die mynhuise die omstandighede verder haglik gemaak vir die wit werkers.
Toe die goudprys na die Eerste Wêreldoorlog verswak, is voorgestel om die helfte van die wit (Afrikaanse) werkers deur goedkoop swart arbeid te vervang. Die lone van die oorblywende wit werkers sou ook verlaag word. Afdankings en ’n loonverlaging was egter vir die werkers onaanvaarbaar omdat die lewenskoste weens die oorlog en sy nagevolge met 50% gestyg het.

Die 1922 staking: Die regering onder leiding van Smuts, wou dadelik ingryp indien die staking sou eskaleer, dus as verdere "straf" het die mynbase betaalde verlof op 1 Mei en 16 Desember afgeskaf. Dit was vir die Afrikaners belangrike vakansiedae en hulle was gevolglik woedend.
Oor die 2000 stakers is gevange geneem onder geweerskoot en die soldate het selfs op burgerlikes geskiet. Groot en bloedige gevegte tussen die regering se weermag en die stakers het gevolg.
Op 14 Maart 1922 het vliegtuie oor Fordsburg gevlieg en pamflette afgegooi aan swartes, vroue en onbetrokkenes om die gebied te verlaat voor die aanval om 11:00 uur sou plaasvind. Smuts het vanaf ’n uitkykpunt die slag dopgehou en die opdragte gegee. Gepantserde voertuie en selfs ’n tenk is ingestuur. Intussen het die voetsoldate straatblok vir straatblok onder hewige geweervuur verower en nader aan die markplein, die sentrum van die stakers, beweeg en dit stadig omsingel. Om 2 uur die middag was die markplein van alle kante omsingel en is met geweer- en mortiervuur bestook. Meer en meer aanvalle is op die stakers geloods en eindelik is die deure van die markgebou oopgebreek, maar die verdedigers was egter reeds dood en die enkele stakers wat nog vanuit ander huise weerstand gebied het, is vinnig stilgemaak. Die opstand was daarmee beëindig.
214 mense is dood en 42 was onskuldige bystanders. Van die stakers wat in hegtenis geneem is, is 18 ter dood veroordeel. Die stakers, wat in die aanval deur die regeringstroepe gesterf het, is sommer deur die polisie op onwaardige wyse in die Braamfontein kerkhof in die hoekie vir armlastiges begrawe. Selfs na die einde van die staking het vervolging van werkers voortgeduur.
Die leier van die opposisie J.B.M. Hertzog het Smuts in die parlement beskryf as die Suid-Afrikaanse premier wat deur die geskiedenis onthou sal word as die man met bloed aan sy hande. Vandag is daardie lysie langer gemaak al van leiers wat met die volk se bloed aan hul hande sit. Hertzog en Cresswell het toe ’n alliansieooreenkoms (die Pakt-regering) gesluit en in die verkiesing van 1924 ’n beslissende oorwinning oor die Suid-Afrikaanse Party van Smuts behaal. Smuts het hom tydelik aan die politiek onttrek na sy huis op Irene.
Die nuwe pakt-regering, het ’n baie werkersvriendelike beleid vir almal gevolg. Hertzog, die nuwe premier, het met staatshulp nywerhede op die been gebring soos Yskor, wat onder beheer van die staat was. Uiteindelik ‘n effense blaaskans vir Afrikaanssprekendes.

Wat dink jy was die moraal van die Boer, die Afrikaanssprekende wit man, wat na die verbitterende stryd teen Bittanje boon-op gedwing is om aan die Eerste en Tweede Wêreldoorlog deel te neem namens Brittanje en hoeveel skade het dit gebring, ook met verlies van lewens ter wille van die sogenaamde Britse Unie, Suid – Afrika? Hou in gedagte dat Brittanje hierdie Unie bekom het met die wrede marteling van en moord op ons boere se vroue, kinders en bejaardes.
Op die vooraand van die Eerste Wêreldoorlog (1914 – 1918) het premier Botha aangekondig dat die Unie van Suid-Afrika (as deel van die Britse Ryk) teen die Duitse Ryk moet veg. Hierdie besluit was teen die wil van die Boere, wat geen rede gehad het om Groot-Brittanje te ondersteun nie. Hul simpatie was met Duitsland, wat met Groot-Brittanje as 'n kragtige land kon meeding. Besonderhede oor die situasie in Europa bereik skaars die geïsoleerde gemeenskappe in Suid-Afrika. Die Unie het soldate na lande soos Frankryk en Noord-Afrika gestuur. Troepe is ook na naburige Suidwes-Afrika gestuur. Ná die oorlog het hierdie land die mandaat geword van die Volkebond wat deur die Unie van Suid-Afrika beheer word. In 1934 het die Suid-Afrikaanse Party en Nasionale Party 'n regering van nasionale eenheid gevorm.
Op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog (1939 – 1945) wou premier Hertzog 'n neutrale Unie hê, maar Jan Smuts was egter van mening dat die land, as deel van die Britse Ryk, aktief teen Duitsland moes veg. 'n Meerderheid van die Afrikaanssprekendes het hom nie ondersteun nie, maar wel Duitsland. Smuts se posisie in 1939, het hom 'n meerderheid stem in die parlement besorg, waarna Hertzog bedank het. Afdelings van die Unie-weermag het in hedendaagse Ethiopië en Madagaskar gaan stry. Hulle het ook in lande rondom die Middellandse See geveg en ondersteuning verleen vir aksies teen Japan.

In Suid – Afrika het hierdie oorlog gelei tot ‘n ekonomiese insinking en Genl. Smuts is uitgestem ter wille van brood en botter.
Dus was die Afrikaanssprekende nog meer uitgedun en verarm, nou waar is sy sogenaamde wit voorreg (privilege)?

4 Junie 1948 het D.F. Malan in die Nasionale Party die amp as Eerste Minister oorgeneem, opgevolg deur J.G. Strijdom vanaf 1954 en hy is opgevolg deur H.F. Verwoerd op 2 September 1958, in wie se amptermyn Suid- Afrika ‘n Republiek geword het op 31 Mei 1961 en wie toe vermoor is in die parlement op 6 September 1966.

Die land het ongekende groei getoon vanaf die laat 1940s, waarin apartheid ingestel is in 1948. Met apartheid wou die Nasionale Party die voortbestaan van die afsonderlike identiteit van elke ras in Suid-Afrika verseker. Blankes, Indiërs, swartes en bruines sou afsonderlik naas mekaar tot ontwikkeling gebring word.
Daar word gesê dat die gebiede, die tuislande, egter nie geskik was vir die vorming van volwaardige state nie en dat finansiering deur die Apartheidsregering onvoldoende was om die Apartheid-visie te verwesenlik.

My vraag is: Waar het hierdie wit Afrikaanssprekende leiers die finansiering gekry om nog die tuislande ook te help met finansies, al was dit dan nou so onvoldoende?
Leiers uit ‘n Volk wat vanaf die vroegste tye in Suid – Afrika onderdruk, vervolg, verarm en gemoor is deur Brit, Zulu en ander stamme, wat nou ter wille van sy reg om afsonderlik te lewe in vrede en Vryheid, bereid was om ander stamme finansieël te ondersteun. ‘n Volk wat se getalle uitgedun is, selfs so vroeg as die Tweede Wêreldoorlog op daardie stadium, kon steeds genoeg in plek plaas om ander volkere en nasies ook te help.

Om terug te keer na die Oranje, blanje blou vlag:
Suid-Afrika het voor Uniewording uit Britse gebiede bestaan; Kaapkolonie, kolonie Natal en die Oranje-Vrystaat en Transvaal. Onthou die boere het bly wegtrek, maar is agterna gesit deur Brittanje en op pad is hulle nog aangeval deur stamme wat van die noordekant af hierdie Suid – Afrikaanse grond kom betree het. Oral en met almal het hulle probeer beraadslaag en onderhandel, totdat net die roer (wapen) opneem die enigste uitweg was. Eindelaas het die konsentrasiekampe gesorg vir noodgedwonge oorgawe en wapen neerlê deur die Boer.

In 1910 het hierdie vier gebiede saamgekom—onder die Britse vlag, die sogenaamde "Union Jack"—om die Unie van Suid-Afrika te vorm. En waar daar enersyds ’n sterk gevoel by Afrikaansprekendes was dat die nuwe land sy eie vlag moes hê, het die Engelse die laaste sê gehad.

In 1925 is Afrikaans uiteindelik deur die Suid-Afrikaanse parlement as amptelike landstaal naas Engels natuurlik, goedgekeur, maar met die vlagwetsontwerp wat dieselfde jaar ingedien is, was daar struikelblokke.
Eers drie jaar later, in Mei 1928, het die Unievlag amptelik vir die eerste keer bo die Parlementsgebou in die Kaap gewapper, maar natuurlik moes die Union Jack saam met hierdie vlag wapper vir soveel jare tot en met 1957.
Met Republiekwording op 31 Mei 1961 is hierdie vlag onveranderd behou—en dit is eers in 1994 finaal gestryk, toe ‘n klomp oningeligtes gevoel het dit simboliseer apartheid.

Feit: Hierdie is nie ‘n apartheidsvlag nie, daar was geen vlag ontwerp en gehys vir apartheid nie. Nie eens die Republiekwording het ‘n vlag verandering teweeggebring nie. Apartheid begin 1948, hierdie vlag wapper al vanaf 1928 in die naam van sogenaamde eenwording (unifikasie). Daar is ‘n 20 jaar verskil tussen 1948 en 1928 (vir diegene wat sukkel met somme maak).

Die Suid-Afrikaanse Tuislande het ook op 27 April 1994 opgehou bestaan en is in die nuwe nege provinsies van 'n demokratiese, ja hulle roep dit ‘n demokratiese Suid-Afrika, opgeneem.

In hierdie sogenaamde demokratiese Suid-Afrika word:
Daar weereens gediskrimineer teen Afrikaanssprekendes – Afrikaans moet val op alle terreine
Afrikaanssprekendes uit die werkplek gehou deur BBBEE
Afrikaanssprekendes se erfenis gevandaliseer en afgebreek
Afrikaanssprekendes se geskiedenis verdraai en uitgevee
Afrikaanssprekendes vertel dat hul grond waarvoor hulle betaal of opbetaal het, sonder vergoeding net geneem sal word
Afrikaanssprekendes wreed vermoor op plase, in die strate en in hul dorpshuise

My groot vraag is dus: Wie het die “privilege” en wie is nou werklik die rassis?
Onder die aaklige apartheid is elke volk sy eie gebied gegun, waar hy in vrede kon voortbestaan en bou, daar is selfs finansiële hulp verskaf vanaf die wit man…
Die wit man het in die 1992 Referendum sy ‘Ja’ stem uitgebring om ‘n einde te maak aan apartheid – daar was gehelp, gegee, geonderrig, opgehef, gelei (ter wille van aparte ontwikkeling en groei, maar omrede daar nie groei aan daardie kant was nie is als aan die kant eindelaas maar net op ‘n blink skinkbord oorhandig.

En vandag, wat ontvang hierdie volk as dankie vir hierdie offers in hierdie sogenaamde demokrasie?
Nie eens die voorreg om ons eie taal te mag besig of vreedsaam in ons eie wonings veilig te slaap nie.

Die groot probleem wat almal het met die vlag, is een enorme verskoning, ‘n opgemaakte spookstorie en is maar net ‘n manier om die slagoffer te speel om sodoende eie onvermoë te verbloem.

Ek het grootgeword onder die oranje, blanje, blou en het daarom respek vir die vlag, maar as nasaat van die boere wat in bloedvergieting vir hierdie grond moes veg en eindelaas oorgee aan ‘n ongenaakbare mag; verkies ek die Vierkleur bo enige vlag wat oor my kop gehys word.

Hulle kan miljoene vlae plant om my te probeer oortuig dat ek in ‘n demokratiese en suksesvolle land woon, maar dit sal nooit werk nie… Die bewyse is om ons sigbaar dat niks demokraties en suksesvol verloop vir ons nie… Volksmoord op die boere, op die wit man en ook die verval van al wat ‘n instansie, dorp en stad is.

Suid – Afrika met die tentoonstelling van sy nuwe vlag – ‘n ashoop waar murasies staan as bewys dat daar eens vooruitgang was.

Bronne: http://www.sahistory.org.za/article/homelands, Maroela Media en Wikiwand
Saamgevat en opinie gelewer: Englie Botha


Februarie vir Afrikaans


Dink aan Februarie en jy dink aan Majuba.
Ons kan ook nie aan Majuba dink, sonder om die gebeure in aanloop tot die Slag van Majuba in gedagte te roep nie.

16 Desember 1838 – Slag van Bloedrivier – Oorwinning oor die Zoeloes.

Die Vryheid van die Voortrekkers na die oorwinning van die Zoeloes by die slag van Bloedrivier was van korte duur a.g.v Britse Imperialisme in Natal.

Die Voortrekkers smag na Vryheid, verlaat Natal en Boere Republieke kom tot stand in Oranje Vrystaat en Transvaal.
Die boere skep in ‘n eens woeste wildernis ‘n leefbare infrastruktuur en leef vir ‘n ruk in vrede, maar weereens is dit van korte duur toe die imperialistiese Brittanje op die toneel verskyn.

17 Januarie 1852 – Sandrivier-konvensie – Brittanje erken die onafhanklikheid van die ZAR: Zuid-Afrikaansche Republiek. Volgens Artikel 17 van die ZAR se konstitusie is Potchefstroom verklaar as die hoofstad van die Republiek.

23 Februarie 1854 – Bloemfontein-konvensie – Brittanje erken die onafhanklikheid van die OVS: Oranje Vrystaat Republiek. Die vernaamste rede vir die konvensie was dat die konstante konflikte met die Basotho eintlik 'n las vir die Britte was. Na die konvensie is slawerny verban en die hantering van Swart inboorlinge is gereguleer, deur tipe kontrakte wat met hulle aangegaan is. Daar is selfs reëls vir toekomstige handel ingestel. Die konvensie het egter nie die grense tussen die Basotho-koninkryk en die OVS bepaal nie en dit het later tot vele konflikte gelei.

12 April 1877 – Sir Theophilus Shepstone van die Britse regering, annekseer Pretoria sonder dat ‘n skoot gevuur is.
11 November 1880 – In Potchefstroom vind die eerste in ‘n lang tyd van openlike verset teen die Britse regering plaas. P.L. Bezuidenhout is aangesê om ekstra fooie op sy ossewa te betaal, maar hy het geweier omrede hy volgens hom, reeds belasting betaal het.  Die Britse owerhede het die wa summier gekonfiskeer. Piet Cronje met ‘n manskap van 100, het die wa gaan terugneem en aan Bezuidenhout terugbesorg. Hierdie insident staan bekend as die Bezuidenhout-affêre.

Vroeg Desember 1880 - 'n Geweerskoot opgevolg deur ‘n hewige skietgeveg tussen Boer en Brit vind plaas in Potchefstroom. 500 Boere het die dorp binnegery en die drukkery beset. Tydens die skietgeveg wat uitgebreek het, het die betrokke Britte gevlug na die ou fort, waarvandaan hulle vir 3 maande nie beweeg het nie.

13 Desember 1880 – Tussen 6000 en 8000 gewapende burgers het, op ‘n voorstel van Adjunk President Paul Kruger, vergader op die klipkoppies by Paardekraal, vandag bekend as die gebied Krugersdorp. Elkeen het ‘n klip kom neersit, ‘n klipstapel, op die plek waar die Paardekraalmonument vandag staan en daar is ‘n gelofte afgelê. Martinus Ras het die vierkleur bo-op die klipstapel staan gemaak, hierdie klipstapel of altaar was ‘n teken van die (tweede) gelofte om met die hulp van God, die vryheid van die Zuid-Afrikaansche Republiek in ere te herstel. Adjunk President Paul Kruger het die Volk toegespreek om vas te stel of hulle eensgesind was om te veg vir Vryheid. Paul Kruger het die klippe op die koppie waar hy gestaan het tot stil getuies van die “besluit van die volk” geroep. Hierna is krygswet aangekondig met die strydmag onder bevel van Kmdt. Genl. Piet Joubert. 'n Tydelike regering is by Heidelberg gevestig onder die uitvoerende gesag van die "driemanskap", naamlik Paul Kruger, M.W. Pretorius en Piet Joubert.

Paardekraal Gelofte
In de tegenwoordigheid van den Almachtigen God, die kenner aller harten onder bidden opsien om sijn genadige hulp en ontferming, sijn wij Burgers van de Zuid-Afrikaansche Republiek plegtig overeengekomem, gelijk wij dezen overeenkomen om voor ons en onze kinderen een heilige verbond op te rigten, het welk wij met plegtigen eed beyweren. Ruim veertig jare is, het geleden, dat onze vadere die Kaapkolonie ontvlugt zijn, om vrij en onafhanklijk Volk te worden. Deze veertig jaren waren veertig jaren van smart en lijden. Wij hebben Natal, den Oranje-Vrijstaat en de Zuid-Afrikaansche Republike gesticht en driemalen heeft die Engelsche Regering onze vrijheid vertracht en onze vlag, die onze vaderen met hun bloed en tranen gedoopt hebben, maar den neergehaald. Als door een dief in de nacht is onze vrije Republiek weggestolen. Wij kunnen en sij magen dat nie dragen. God wil, dat de eerbied onzer vaderen en de liefde jegens onze kinderen ons voorschrijft, het erfpand der vaderen ongeschonden aan onze kinderen over te leveren. Daarom is het dat wij hier bij elkander de hand geval en Volk en met het oog op God samen te werken, tot den dood toe, voor de herstelling van de vrijheid onzer Republiek. Zo waarlijk helpe ons God Almachtig. Amen.

Die burgers van die ZAR en manne van die OVS het die Eerste Vryheidsoorlog/ Anglo-Boereoorlog, wat geduur het vanaf 16 Desember 1880 tot en met 27 Februarie 1881 uitgeroep.

Aan Britse kant was Generaal-majoor Sir George Pomeroy Colley die opperbevelvoerder van die Britse magte in Suid-Afrika, asook die goewerneur van Natal en Hoë Kommissaris oor die Britse Kolonies in Suidelike Afrika, 'n briljante man met 'n uitstekende militêre rekord en voormalige professor aan die Sandhurst Militêre Akademie in Engeland.

20 Desember 1880 – Slag van Bronkhorstspruit: Generaal Frans Joubert met 150 man stuit Kolonel Anstruther se opmars van Lydenburg na Pretoria by Bronkhorstspruit. 57 Britte dood (Anstruther sterf ook) en meer as 100 gewond. Boere: 2 dood en 5 gewond.

28 Januarie 1881 – Slag van Laingsnek: Op die heuwelrug Laingsnek, oos van die berg Majuba in Natal, was 1 500 Boere ingegrawe. Op 28 Januarie 1881 het Generaal Colley met meer as 1 000 man hulle aangeval. Weereens is die Britte verslaan. 83 Britte dood en 111 gewond.  Boere: 14 dood en 27 gewond.

8 Februarie 1881 – Slag van Ingogo/ Skuinshoogte: Generaal Nicolas Smit het ‘n Britse bangmaakmag onverwags oorval en verslaan op die ou pad na Newcastle, ongeveer 15 km suid van Mount Prospect. Colley se mag trek deur die nag terug, tog volg die Boere nie op nie, maar Britse gesneuweldes en gewondes is in 'n treurige toestand agtergelaat. 76 Britte dood en 63 gewond. Boere: 8 dood en 6 gewond.

27 Februarie 1881 – Slag van Majuba: Dit was die laaste van hierdie vier militêre botsings tussen Groot-Brittanje en die Boere tydens die Eerste Vryheidsoorlog. Die groot oorwinning deur die Boere het die Britte gedwing om Transvaal weer sy vryheid te gee.

Colley het nog 2000 troepe van Newcastle laat kom en die plan bedink om die berg Majuba te beset. Daarvandaan sou hy kon neerkyk op die Boere se stellings by Laingsnek. Die Britte (405 van hulle) het die berg gedurende die nag van 26 Februarie uitgeklim. Teen dagbreek het nog soldate rondom die kruin van die berg stelling ingeneem. Die Gordon Highlanders het die noordelike en noordwestelike kruin beset, asook Gordon se koppie, een van drie koppies bo-op Majuba.

Die oorwinning van die Boere oor die Britte het ‘n ekstra hupstoot gekry te danke aan die waaksaamheid van die vroue. Die jong mev. De Jager het vroegoggend lig teen die berg gesien en besef dat die Engelse bo-op die berg was. Sy het die kamp van die manne aan die onderkant van die berg te perd binnejaag met dié boodskap. Ook genl. Joubert se vrou binne die laer het die vyand op die berg gewaar en alarm gemaak.

Generaal Nicolaas Smit het drie afdelings laat vorm, afsonderlik onder leiding van: kommandant Joachim Ferreira, assistent-veldkornet Fanus Roos en assistent-veldkornet Danie Malan. Die manne bo 50 moes agter die rotse van die eerste plato skuil en na elke Engelsman wat sy kop oor die boonste rand uitsteek, skiet. Die res van die Boere het so onder vuurdekking tot reg onder die kruin beweeg. Hierdie klimmery het hulle ses ure geneem.

Intussen het Colley opdrag gegee dat die berg vir ten minste drie dae verdedig moes word en hy en baie van die troepe wat dwarsdeur die nag die berg uitgeklim het, het gaan slaap.

Teen die middag het die Boere op Gordon se koppie losgebars met hewige geweervuur en dit verower. Gedurende die volgende uur, het die Boere oor die kruin gestroom en die Britte met akkurate skietwerk groot verliese toegedien. Die Britte, nou erg verward, het na die suidekant van die bergtop gevlug. Generaal Colley is bokant sy regteroog raakgeskiet en is op die berg oorlede. Die res van die Britse mag het oor die agterste kruin gespring. 92 Britse soldate is dood, 134 gewond en 59 is gevange geneem. Slegs 1 van die Boere (H. Bekker) het daardie dag gesterf ('n tweede een, J. Groenewald, het later aan sy wonde beswyk) en 6 is gewond.

Die Slag van Majuba was ‘n verwoestende veldslag en die Britse ryk is tot in sy fondamente geskud. Naas Bloedrivier is dit die belangrikste gebeurtenis vir die Afrikanervolk in sy stryd vir Vryheid. Na Majuba is met vredesonderhandelinge begin en is daar op 21 Maart 1881 'n vredesooreenkoms geteken.

Vryheid was weereens van korte duur, want die tweede Vryheidsoorlog of Anglo Boere oorlog het begin op 11 Oktober 1899 en die stryd moes eindig op 31 Mei 1902, waar die Boer gedwing is om sy wapen neer te lê ter wille van vrou en kind.

Op versoek van die Volksraad is die Paardekraal Monument op die koppie op Paardekraal opgerig en President Paul Kruger het dit op 16 Desember 1891 tydens ‘n Gelofte en Verootmoedigingsfees onthul. Hierdie dag was uiters gedenkwaardig aangesien dit die eerste Volksfees/Paardekraalfees was, waarop die Slag van Bloedrivier weer deur die boerevolk herdenk is.

Die Britte kon die vier volslae nederlae nie gou vergeet nie. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog, beter bekend as die Anglo-Boereoorlog van 1899–1902 het "Remember Majuba!", 'n strydkreet geword.

Die Majuba-slagveld, Plaas Majuba-Noord 11267, Newcastle-distrik, is op 30 Junie 1989 as 'n bewaringsgebied verklaar en word beskerm ingevolge van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (25/1999).
Hoofbron: Wikipedia
Nageslaan en hier saamgevat deur Englie Botha